Wednesday, Apr, 15, 2026
The National Citizen Logo

Gewese-Dwelmverslaafde 'n Lewende Getuienis vir Wellington Jeug

Wellington | Roseline Ruiters | 14 August 2025
Gewese-Dwelmverslaafde 'n Lewende Getuienis vir Wellington Jeug

Elke mens is uniek. Daar is nie twee persone wat dieselfde vingerafdruk soos sy ma, pa, broer of suster het nie. Geen uitgebreide familie, buurman of vriend het jou vinger afdruk nie. 

So is elke mens se storie, lewens ervaring, toekomstige planne ook uniek. Soms is mense se stories soortgelyk maar nooit presies dieselfde nie. Die storie van Cornelius Storm is soortgelyk aan die van baie jeugdiges in ons dorp. Gebore en opgroei in die dorp Wellington. As kind het hy gehou van speel en soos soveel ander woon hy die plaaslike landelike laerskool genaamd Wagenmakersvallei NGK Primêr by. Op die ouderdom van 9 jaar oud in Cornelius se storie het hy blootstelling gekry aan dwelms. Van sy maatjies op die plaas het dit gebruik. Hulle het hom vertel hoe hierdie dwelms hulle laat voel en dit het hom nuuskierig gemaak. Toe die geleentheid opdaag en hulle hom vra of hy wou saam gebruik en voel soos hulle, het hy ja gesê. Hy wou ervaar of die dwelms hom dieselfde effek sou gee soos wat sy maatjies gesê het. So het hy sy eerste blootstelling en eksperiment met dwelms op n baie vroeë ouderdom gehad.

As boorling van Wellington, is dit nie n vreemde gesig vir my nie. Soveel van ons jongmense het n soortgelyke storie. Ek het met n paar van hulle gesels. Ek wou die redes hoor oor waarom hulle dwelms gebruik, watter ouderdom hulle dit vir die eerste keer gebruik het, hoekom hulle dit aanhou gebruik alhoewel hulle die gevare van dwelms verstaan, en/of hulle al probeer het om op te hou dit te gebruik. Nie een van hierdie jongmense wou egter 'famous' gemaak word omdat hulle dwelm verslaaf is nie. Hulle wou nie hul naam en gesig publiek gemaak het nie. Almal behalwe Cornelius. 

Ek vra hom hoekom hy bereid is om sy identiteit en storie bekend te maak antwoord hy die volgende, “Vandag se kinders het 'n fisiese voorbeeld nodig. Hulle verstaan beter as hulle sien wat die moontlike gevolge kan wees as hulle dwelms gebruik. Ek kan my bene nie meer gebruik nie. Ek is verlam. Ek het slegs een oog wat ek kan gebruik om te sien. Die ander een kon die dokters nie red nie. Ek het dit verloor in 'n geveg. Alles na gevolge van dwelms gebruik.” 

Cornelius is braaf! in my opinie. Om so sy storie bekend te maak. Hy vertel dat die ergste dwelm wat hy gebruik het was tik. Na die afsterwe van 'n geliefde het die middel 'n ontvlugting geword. Wanneer hy ge-tik was, was sy gedagtes besig en hoef hy nie die realiteit, verlange en leemte te voel nie. So meer hy die dwelm gebruik het, hoe minder pyn het hy gevoel. Baie van die ander jongmense sê ook hoe meer hulle die dwelms gebruik, hoe beter voel hulle. Dis asof die dwelm die seer, teleurstelling of wat ook al emosie hulle voel vervang met 'gelukkigheid'.

‘n Geloofs oortuiging het Cornelius help ophou om dwelms te gebruik. Hy was in verbetering skole en in die gevangenis maar eers na hierdie geestelike ervaring kon hy stelselmatig ontslae raak van dwelms. Elke week besoek hy 'n kerk. Die predikings en mense daar help hom om nie weer betrokke by dwelms te raak nie. Hy sê, “ek sou dit nie kon volhou en sonder drugs bly sonder die hulp van die Here nie”. Cornelius het geleer om te praat oor hoe hy voel. Mense het geluister en kon hom help. Baie van ons jongmense wat dwelm verslaaf is het n veilige plek en gewillige mense wat bereid is omte help nodig. ‘n Plek waar hulle gesonde maniere aangeleer word en ‘n nuwe sienwyse kan aanneem weg van dwelms af.. Draf, stap oefen, 'n tipe sport bespeel is ook alternatiewe opsies om ontslae te raak van frustrasies. 

Baie duidelik moet ons as gemeenskap aandag gee aan ons jong kinders. Dwelms is ongelukkig beskikbaar by verskeie plekke in die einste omgewings waar ons woon. Dalk in jou ouerhuis is daar nie toegang tot dwelms nie maar jou kind se maatjie mag wel in besit kom van dwelms en wil dan eksperimenteer. Groepsdruk kan dus so maklik ook plek vat. Op die ouderdom van 9jaar oud was Cornelius so nuuskierig dat hy dadelik ja gese het toe sy vriende hom vra as hy wil voel soos hulle. Die nuuskierigheid van ‘n kind maak dat hy/sy maklik beinvloed kan word, so op n vroeë ouderdom moet ons kinders die gevare van dwelms begin aanleer. Ouers, gemeenskaplesd, skole en kerke moet inligting deel met kinders en ten alle tye ‘n oog hou op die kind doen en late. Hoe meer ons kinders weet, hoe groter is die kans dat hulle die gevare van dwelms sal kan herken en nee sê wanneer en of dit wel vir hul aangebied gaan word.

‘n Mens se uniekheid kan 'n mooi storie wees indien ‘n mens die nodige informasie en wilskrag het om goeie besluite te neem.

The National Citizen Icon

The National Citizen brings the community together. Delivering relevant, inspiring and solution-driven content to the citizens of South Africa.

admin@nationalcitizen.co.za
0710269746