'Al die storms was die moeite werd': Ebenezer Trompoppies Behaal Top-10 by die Nasionale Kampioenskappe
In ’n tyd waarin werkende gesinne en gemeenskappe daagliks moet spook teen finansiële druk en sosiale uitdagings, het ’n groep plaaslike jongmense bewys dat toegewydheid en mekaar se ondersteuning enige berg kan versit. Die Ebenezer Trompoppies het pas teruggekeer van die Suid-Afrikaanse Nasionale Trompoppie Kampioenskappe — en hul prestasie spreek van pure deursettingsvermoë en hartstog.
Wat aanvanklik vir die afrigter, Dalene Tembanie, na ’n opbou-seisoen met ’n splinternuwe span gelyk het, het verander in ’n skitterende suksesstorie toe die span nie net die finale gehaal het nie, maar onder die top-10 in die land geëindig het. Daarbenewens het die span se vlaggroep ’n indrukwekkende vierde plek landwyd ingepalm.
Bowe Verwagtinge op die Groot Verhoog
"Verlede jaar het ek met ’n totale nuwe span deelgeneem wat ek moes leer," vertel Dalene, wat in haar alledaagse lewe ook as kliniese verpleegkundige dien. "Die verwagting hierdie jaar was net dat dit beter sou gaan omdat almal reeds geskool was. Ek het gehoop dat as ons die finale haal, ek gelukkig sou wees. Maar die trompoppies het my stomgeslaan!"
Ebenezer trompoppies was na die aanloop na die finale rondte eerste op die program geplaas om in die finaal op te tree — reg teen die sterkste spanne in Suid-Afrika.
"Al wat ek van my span verlang het, is dat hulle dit wat ons geoefen het sou toepas, hul beste gee en hulself geniet," sê Dalene. "Die manier hoe die atlete my verbaas het, was bo enige verwagting. Hulle het regtig hul alles op die mat gelos."

Foto: Ebenezer Trompoppies Afrigter Dalene Tembanie
Uitdagings op en van die Baan Af
Die pad na die nasionale spele was egter nie sonder storms nie. Beserings het die span op die proef gestel toe twee atlete kniebeserings opgedoen het — een kort voor die toernooi en ’n tweede tydens die semi-finale.
Aangesien trompoppies nie plaasvervangers gebruik nie, moes die span vinnig aanpas sodat die formasies nie geaffekteer word nie. Met Dalene se mediese agtergrond as kliniese verpleegkundige kon sy — met die ouers se toestemming — na die beseerde atleet omsien. Die res van die span het saamgestaan en so naatloos opgetree dat ’n mens nie eens die tekort aan ’n lid kon opmerk nie.
Nog ’n harde werklikheid vir die gemeenskap was die finansiële struikelblokke. Twee atlete kon nie saam reis nie weens 'n gebrek aan fondse. Dalene het self twee atlete uit haar eie sak geborg, maar dit was helaas nie moontlik om almal se koste te dek nie.
Die Plaaslike Gemeenskap Staan By
Ten spyte van die moeilike omstandighede het die gemeenskap en plaaslike ondersteuners gewys wat gedoen kan word wanneer mense mekaar meeleef. Twee weke voor die reis het die hulp van buite begin inkom.
Onder die borge wat ’n deurslaggewende verskil gemaak het, was die Lions Klub in die Paarl, Ann Philander van Biltong Hub, asook ’n ruim individuele skenking van R5 000. Hierdie ondersteuning het die span die nodige hupstoot gegee om hul droom op die nasionale verhoog te verwesenlik.
Groei, Dissipline en die Pad Vorentoe

Ebenezer Trompoppies Vlaggroep wat Vierde Plek Behaal het Tydens die Nasionale Kampioenskappe.
Vir die spanlede was die reis veel meer as net kompetisie; dit was ’n skool vir die lewe. Die ervaring het hul selfvertroue gebou, hul onderlinge vertroue versterk en gewys wat dissipline en spanwerk kan bereik.
"Hierdie ervaring het my weer geleer dat harde werk gesamentlik met toegewydheid altyd vrugte pluk," sê Dalene.
Die Ebenezer Trompoppies sit nie op hul louere nie en kyk reeds na die toekoms:
-
29 Augustus 2026: Begin van die skills development-program (vaardigheidsontwikkeling) in die sport.
-
5 September 2026: Optrede by Hillcrest Primêre Skool se derby in Wellington.
-
31 Oktober 2026: Deelname aan die Reach for Recovery Kankerstap in Langebaan.
-
November 2026 & Vroeg-2027: Boland-proewe gevolg deur die Suid-Afrikaanse proewe vir die nuwe seisoen.
Wanneer Dalene die hele reis van die Ebenezer Trompoppies na en deur die nasionale spele opsom, doen sy dit met een enkele, kragtige sin wat vir elke werker, ouer en jongmens in die gemeenskap as inspirasie kan dien:
"Al die storms was die moeite werd."