Wednesday, May, 06, 2026
The National Citizen Logo

Wellington-Pendelaars Word Geteiken: Jong Bendes Saai Skrik op Taxi-Roetes

Wellington | Carlo Small | 12 February 2026
Wellington-Pendelaars Word Geteiken: Jong Bendes Saai Skrik op Taxi-Roetes

’n Nuwe en kommerwekkende vlaag van misdaad het sy kop uitgesteek op die besige taxi-roete tussen Wellington en die Paarl. Waar pendelaars voorheen bloot bekommerd was oor padwaardigheid of verkeer, staar hulle nou ’n nuwe vyand in die gesig: "Groepe skoolverlating-ouderdom seuns wat taxi-passasiers helderoordag teiken".

Hierdie voorvalle vind toenemend plaas by bekende stilhouplekke, waar jong mans – vermoedelik nog in hul tienerjare en nie meer in die skoolstelsel nie – die voertuie bestorm sodra hulle tot stilstand kom.

’n Angswekkende Ervaring

Een persoon wat daagliks die roete gebruik, het anoniem met ons gedeel hoe vinnig ’n gewone rit huis toe in ’n jaagtog om veiligheid kan verander:

"Oppad huistoe vanaf werk af in die Wellington taxi het 'n groep seun by die O.R na die taxi begin hardloop. Ons het ons vensters toe gemaak sodat hulle niks kon gryp nie. Ek hoor dit is 'n gereelde ding dat seuns die taxis bevlieg om selfone te gryp."

Hierdie getuienis beklemtoon die berekende aard van die aanvalle. Dit is nie meer net geleentheidsmisdaad nie; dit is georganiseerde pogings om mense te beroof van hul swaarverdiende besittings of duur studietoerusting.

Die Kwesbaarstes onder Skoot

Wat hierdie situasie so ernstig maak, is dat dit juis die werkende klas en studente is wat die swaarste getref word. Vir baie mense in Wellington is die taxi die enigste bekostigbare manier om by die werk of op kampus te kom.

Wanneer ’n selfoon of ’n beursie gesteel word, is dit nie net ’n verlies van ’n item nie – dit is die geld vir die maand se kos of die enigste manier waarop ’n student toegang tot hul studiemateriaal het.

’n Roep om Aksie

Hierdie is ’n nuwe fenomeen in Wellington wat die plaaslike owerhede nie mag ignoreer nie. Die gemeenskap doen nou ’n dringende beroep op die Polisie (SAPD) en Wetstoepassing om hul teenwoordigheid drasties te verhoog, veral in die volgende brandpunte:

  • Van Wyksvlei

  • Carterville

Dit is noodsaaklik dat daar sigbare patrollies is, nie net in hoofstrate nie, maar spesifiek naby die taxi-staanplekke en roetes waar hierdie jong groepe saamdrom. Ons kan nie toelaat dat ons strate oorgeneem word deur jongmense wat die pad byster geraak het nie.

Die veiligheid van ons mense wat die ekonomie aan die gang hou, moet eerste kom.

The National Citizen Icon

The National Citizen brings the community together. Delivering relevant, inspiring and solution-driven content to the citizens of South Africa.

admin@nationalcitizen.co.za
0710269746